Marlow se spanne speel skitter rugby

Marlow se o.15A span speel vanjaar in al hul wedstryde met vurige spel. Hierdie span het baie ontwikkel en het tans slegs een wedstryd verloor. Hier val Du Preez Vermaak aan met die bal teen Merensky.

Marlow se o.15A span speel vanjaar in al hul wedstryde met vurige spel. Hierdie span het baie ontwikkel en het tans slegs een wedstryd verloor. Hier val Du Preez Vermaak aan met die bal teen Merensky.

DIE Hoër Landbouskool Marlow se 13 rugby-spanne speel die afgelope seisoen skitter rugby en die skool is baie trots op al die spanne wat elke keer met oorgawe oefen en speel. Die skool neem deel aan drie toernooie in drie verskillende provinsies met hul spanne.

Marlow se 1ste span het tans 11 wedstryde gespeel en agt gewen. Die Wolramme neem deel aan Kearsney se Paasfeestoernooi. Tydens die toernooi speel Marlow in moeilike weersomstandighede en wen een van die drie wedstryde. Marlow wen Kearsney (gasheerskool), verloor in die doodsnikke teen Monument en verloor hul laaste kragmeting teen Pretoria Boys’ High.

Die 1ste span se eerste 10 wedstryde was almal weg en hulle het ongeveer 6 300km gereis. Daar was in vyf provinsies rugby gespeel en die gehalte spel wat die 1ste span lewer, is van hoogstaande gehalte.

Marlow se 2de, 3de en 4de spanne is tans onoorwonne. Hierdie spanne speel baie keer teen 1ste liga-spanne en maak hul stem behoorlik dik in die provinsie. Marlow se 5de span wen twee van sy drie kragmetings.

Marlow se o.16A span het deelgeneem aan Paarl Gimnasium se o.16 rugbytoernooi. Hierdie toernooi is sonder twyfel die sterkste rugbytoernooi elke jaar in die land.

Die span wen een wedstryd en speel in die ander twee kragmetings met oorgawe. Marlow se o.16A-span het hul laaste vyf kragmetings gemaklik gewen.

Die Wolramme se o.15A-span speel ook tans met passie en was nog net een keer aan die verloorkant. Die o.15-groep gaan vanjaar na die Suid-Kaap toer en daar word ook tydens hierdie toer spogspel verwag.

Marlow spog vanjaar met drie o.14-spanne. Die Wolrammetjies maak die skool baie trots op die wyse waarmee hulle elke wedstryd vir hul teenstanders laat les opsê. Die A-span het tans slegs een wedstryd verloor en die B-span is tans onoorwonne.