
Vossie en Rika de Vos, die bobaas bak-egpaar van Cradock.Foto:WILNA DE KLERK
Rika de Vos staan tussen 03:00 en 05:00 soggens op om met haar dagtaak van ses dae ’n week te begin – sy en haar man Vossie bak. Sy moes verskeie kere, weens druk, al deurnag werk om bestellings af te handel.
Vossie se spesialiteit is die sjokolade-, vanilla- en lemoenkoeke wat hy bak en ’n baie spesiale kaaskoek wat se resep ’n jaar of drie gelede in Komani-Karoo Express verskyn het.
“Rika doen die versiering van my koeke, want ek is nie kunstig genoeg vir daai joppie nie,” sê Vossie.
Rika bak heerlike wortelkoeke, kolwyntjies, bierboks-koeke (groot verjaarsdagkoeke wat in ’n bierboks gebak word) en melkterte.
Haar pasteie, wat sy vir die tuisnywerheid Dit en Dat bak, is veral ’n wenner.
“My vrou se hoenderpasteie is so gewild dat byna al die skole op die dorp haar ondersteun en bestellings na Gqeberha, Tarkastad en selfs per vliegtuin na Pretoria versend word,” sê Vossie.
Die twee bakkers van Beerenstraat sê hulle het in die begin ’n hele klompie oonde kapoet gebak, maar nou het hulle ’n konveksie-oond wat ses koeke op ’n tyd kan bak en net vier minute neem om warm te word.
Vossie bak gemiddeld 14 koeke per dag, maar dié hoeveelheid verdubbel in Desember.
Vossie het in die sestien jaar wat hy ’n verkeersman op Knysna was vir ’n tuisnywerheid op dié Tuinroetedorp gebak.
Hy was vir nege jaar in dieselfde beroep op Cradock voor hy uitgetree en vir die volgende 14 jaar as koster by die NG Moederkerk gewerk het. Nou is hy afgetree en bak en brou saam met sy vrou.
Rika is die dogter van Dora Bos-hoff, wat vir jare bekend was as “Cradock se kleinkoekie-koningin”.
Dora se kleinkoekies en Hertzoggies was so gewild dat jy in November al jou bestelling moes plaas as jy Kersfeeskoekies by haar wou kry.